


INTERNE PROJEKTE
INTERN: SOSIALE WELSTAND
Ons stigting poog om die leerders in ons skool se basiese behoeftes heel eerste te vervul. Hiervoor loods ons kosdrywe in ons skool om die volgende produkte in te samel:
- nie-bederfbare kosprodukte
- toiletware
- skryfbehoeftes
Indien u, u besigheid se naam aan ‘n omgeeprojek, waar die nood werklik groot is, met items of donasies wil koppel, kontak asseblief vir Franci de Jager by:
U kan betrokke raak deur:
- ‘n leerder se skryfbehoefteboks in Desember te borg,
- gereelde donasie van nie-bederfbare kosprodukte en toiletware,
- maandeliks ‘n bedrag aan ons omgeeprojek per debietorder of direkte bankinbetaling te skenk. Hierdie bedrae word gebruik ter ondersteuning van leerders wat deur deur ons skool se maatskaplike werkster geïdentifiseer is na afloop van huisbesoeke.
- Bankbesonderhede:
Laerskool Hendrik Louw, Standardbank, Takkode: 051001, Lopende Rekening No: 063164825, Verwysing: REEF FOUNDATION
‘n Artikel 18A kwitansie sal op versoek aan besighede uitgereik word.
INTERN: EMOSIONELE WELSTAND
Blue, die kalm seeskilpad
Seeskilpaaie is bekend vir hul kalm geaardheid en hulle simboliseer wysheid en uithouvermoë. 'n Saggeaarde see-skilpad kan 'n vertroostende oor wees. Leerders kan ‘n briefie aan Blue skryf waarin hulle hul emosies deel.
Reef se Omgee-mammas
Ons skool is geseënd met ‘n groep vrywillige en opgeleide mammas wat daarop fokus om spontane kommunikasie by ons kinders te fasiliteer en aan te moedig. Die mammas beantwoord die briefies (namens Blue en onder leiding van ons Maatskaplike Werkster) en help sodoende die leerders met praktiese wenke om hul emosies te hanteer en om soms net simpatie te betoon.
Wie is hierdie groep vrywillige mammas en hoe kan u betrokke raak?
Indien u voel dat uoor die volgende eienskappe beskik, kan u aansoek doen om deel van hierdie noodsaaklike groep vrywilligers te word.
- Empaties en sagmoedig
- Christelike waardes
- Bereidwilligheid om te leer en opleidingsessies by te woon
- Betroubaar en lojaal
Ons vereis ‘n polisieklaring en ons beveel aan dat u oor buigsame werksure beskik. Die Skoolbeheerliggaam se Uitreikkomitee sal geskikte kandidate vir ‘n gesprek nooi nadat ‘n streng keuringsproses afgehandel is. Hierdie groep vrywilligers kry gereelde opleidingsessies en werk hand-aan-hand met ons Skoolbestuur en Maatskaplike Werkster.
_______________________________________
EKSTERNE PROJEKTE EN UITREIKE
Laerskool Hendrik Louw besef die waarde van uitreike in die gemeenskap buite ons skool.
Strand Buurtwag
Ons ondersteun graag Strand Buurtwag se projekte. In 2024 help ons met die Silwerhare-projek waar ons toiletware vir bejaardes in ons gemeenskap insamel.
Uitreik na Fraserburg
Ons lewer op gereelde basis boeke, skoolklere, sporttoerusting, onderwyshulpmiddels en skryfbehoeftes in Fraserburg, naby Sutherland in die Karoo af. Daar is al ‘n “mini Hendrik Louw” met skool- en sportklere wat uit sirkulasie is by Laerskool Hendrik Louw.
Kfm en Mandeladag
Laerskool Hendrik Louw is vir die afgelope twee jaar Kfm se Ambassadeur in die Helderberg vir hulle jaarlikse Mandeladag-uitreik. Ons samel warm komberse, truie, serpe en musse in om saam met Kfm op Mandeladag uit te deel.
LEERDERRAAD UITREIKE
Ons leerderraad loods elke jaar verskeie projekte in ons plaaslike gemeenskap.
- Kfm en Mandeladag: Ons is sedert 2023 Tracey Lange van Kfm se ambassadeur in die Helderberg, vir Mandeladag.
In 2023 loods ons ‘n heelskool brei-aksie en skenk talle komberse, musse en handskoene aan plaaslike outehuise.
In 2024 fokus ons op kinderhuise en skenk komberse, musse en handskoene aan Heartlands Baby and Child Sanctuary, Badisa, Sir Lowryspasgemeenskap en aan ons eie skool se behoeftige leerders. - Ons leerders reik gereeld uit na outehuise met geskenkies, interaksie met die bejaardes of ‘n musiekkonsert.
- Na die vloede in die winter skenk ons warm sop aan Helpende Hand.
UITREIK NA WUPPERTHAL PRIMÊR
Laerskool Hendrik Louw se uitreik na Wupperthal Primêr, diep in die Biedouw-vallei, in die Sederberge, was vanaf 2015 tot 2023 ‘n gereelde instelling. Hierdie uitreik is die breinkind van mevrou Christa Cruywagen en haar man Kulu, wat in 2015 die behoefte by Wupperthal Primêr raakgesien het. Sedertdien neem Christa en Kulu die top Graad 7-Wiskundeleerders, wat Afrikaans magtig is, om die leerders en onderwysers by te staan met hulp in leermateriaal en sporttoerusting.
Ons leerders en ‘n paar onderwysers gaan vir twee dae saam met die Wupperthallers skool en deel ons kennis en hulp in onderrig. Die ironie is dat dit óns is wat elke jaar verryk terugkom. Die tevredenheid en dankbaarheid van die Wupperthal-gemeenskap het ‘n wonderlike, onvergeetlike en blywende indruk in elkeen van ons gegraveer!

