

KLEIN-LOUWTJIES
Laerskool Hendrik Louw is trots om 'n Graad RRR-klas, vier Graad RR- en vyf Graad R-klasse op dieselfde perseel as ons hoof-skoolgebou aan te bied. Ons klein-Louwtjies het hulle eie speelgronde en badkamers.
Graad RRR: Een Afrikaanse klas. Laai die Graad RRR program hier af.
Graad RR klasse: Twee Afrikaans en twee Engels.
Graad R klasse: Drie Afrikaans en twee Engels.
Ons klein-Louwtjies het hulle eie T-hemp wat op Vrydae en tydens instappies en uitstappies gedra word, tensy ons ‘n “fancy dress” het, wat nogal gereeld gebeur! Dit sluit onder andere die gewilde Ouma- en Oupadag, Pajamadag (Winter), Paasfees-skattejag, Braaidag (Erfenisdag) en ander feesdae in.

GRAAD RR
In hierdie graad verwelkom ons skool ons splinternuwe leerdertjies by ons skool. Die fokus is op leer deur te speel. Ons kombineer verskeie opvoedingsbeginsels om ons leerders gereed te maak vir formele leer en die nodige vaardighede aan te leer om sukses in gr R en die Grondslagfase te ervaar.
Daarby skep ons ‘n veilige, positiewe en gelukkige omgewing waar leerders gemaklik voel en tot hul volle potensiaal kan ontwikkel om sodoende ‘n sterk selfbeeld te bou. Die omgewing is goed gestruktureerd en stimulerend sodat kinders kan ontdek, leer en speel. Dit dra daartoe by dat kinders veilig voel om hul eie belangstellings, persoonlikheid en behoeftes te ontdek en uit te leef. Die opvoeder word bygestaan deur ‘n klasassistent of intern. Monkeynastix en robotika& kodering is ingesluit by die skoolfonds.
GR R
In hierdie jaar is die fokus skoolgereedheid. Alhoewel die fokus steeds op speel deur leer is, word ‘n mate van formele leer ingebring en vind deurlopende assessering plaas, waardeur leemtes aangespreek kan word. Die klasopvoeder word ook hier bygestaan deur ‘n klasassistent of intern. Monkeynastix en robotika is ingesluit by die skoolfonds, sowel as Graad R sport wat rugga roots (rugby), netbal en hokkie insluit.
Die jaar eindig met ons jaarlikse diploma-seremonie en konsert vir ons Graad R-leerders. ‘n Groot en emosionele hoogtepunt vir ons ouers.
KODERING EN GROOT-MOTORIESE ONTWIKKELING
Ons Graad RR- en Graad R-klasse woon weekliks Robotika-klasse by, waar hulle basiese kennis t.o.v. kodering speel-speel opdoen. Dit kombineer Lego en tegnologie en berei klein breintjies alreeds voor vir die toekoms!
Monkeynastix besoek ons Graad RR- en R-klasse ook weekliks om te help met hulle groot-motoriese ontwikkeling.
Die leerders van Hendrik Louw is in die bevoorregte posisie dat beide hierdie klasse ingesluit is by hulle skoolfonds.
INSTAPPIES EN UITSTAPPIES
Daar is ‘n verskeidenheid van instansies wat ons klein Louwtjies besoek en demonstrasies wat gedoen word by die skool, byvoorbeeld:
- Hoe om ‘n troeteldier te bad en versorg
- Bak en brou in die kombuis
- Hoe om jou tande te versorg
- Besoek van die brandweer
- Honde of reptiele vertoning
Verder word Graad R- leerders op uitstappies wat binne stapafstand vanaf die skool is, geneem. Byvoorbeeld: ABSA, ‘n troeteldierwinkel, Pick ’n Pay en ’n pretdag op die strand.
TERAPEUTE
Laerskool Hendrik Louw bied ook aan alle leerders die ondersteuning van ons spraak- en arbeidsterapeute gedurende skoolure in ons eie lokale en sentrum.















