DIE GESKIEDENIS VAN DIE LAERSKOOL HENDRIK LOUW - 1880 tot 2000
As gevolg van ‘n gebrek aan dokumentêre bewyse, is dit onmoontlik om presies vas te stel wanneer ouers van die klein gemeenskap hier aan die Kus van Valsbaai besluit het om hul onderwysbande met die kerkskole van Somerset-Wes te verbreek. Die vermoede bestaan wel dat dit gedurende die tweede helfte van die 19de eeu plaasgevind het.
Volgens oorlewing was die Wesliaanse Kerk, wat gestaan het op die perseel waar die winkel ‘Friedman en Cohen’ vandag geleë is, die eerste skool. ‘n Sekere Mev Bergsteedt, die eerste opvoeder aan die skool, is in 1880 aangestel. Op daardie stadium was ouers self verantwoordelik vir die aanstelling en vergoeding van opvoeders. Die gebou is in 1912 gesloop.
Die eerste skool in die Wesliaanse Kerk in 1880 waar Friedman en Cohen vandag geleë is.
Die nuwe Somerset-Wes/Strand-Skool, gebou op ons huidige gronde met die ingang in Faganstraat.
1922 Inwyding van die groter Somerset-Wes/Strand-Skool.
Mnr Hendrik Arnoldus Louw (Dick Louw) na wie ons skool in 1948 herdoop is.
Ons eerste Laerskool Hendrik Louw skoolwapen ontwerp deur die skryfster Helena Lochner and herontwerp deur die bekende spotprenttekenaar, Mnr T.O. Honiball.
Die eerste regeringskool is in 1893 geopen in die St. Andrews Hall. ‘n Ene Mnr Hugo was die eerste opvoeder wat daar aangestel is.
‘n Lening van £2,100 (terugbetaalbaar oor 25 jaar) is in 1901 aan die Trustees van ‘n nuwe skool wat beoog is, toegestaan. Kroongrond is in Faganstraat bekom en daar is begin bou aan die Somerset-Wes/Strand-skool. Die nuwe skool is in 1902 ingewy.
Selfs gedurende daardie jare het die klimaat vir interessante verskynsels gesorg. Vloedwaters het soms oor die munisipale- en skoolgronde tot by Sarel Cilliersstraat opgestoot. In teenstelling met so ‘n nat wintersdag, moes die skool se drinkwater gedurende die somer weer van sover soos ‘Half Way’ met ‘n perdekar aangery word.
Teen 1907 was daar ‘n afname in die leerdertal vanaf 182 tot 136 leerders. ‘n Ondersoek is gelas en daar is selfs gepoog om leerders van die skooltjie in Gordonsbaai te oorreed om na die Somerset-Wes/Strand-skool oor te kom, sodat die pos van hulponderwyser behoue kon bly.
In 1912 word Mnr H.A. Louw adjunkhoof aan die skool. Op daardie stadium was ‘n aansoek om insluiting van ‘n St. VIII-klas by die skool hangende. Mnr Louw volg in 1915 Mnr Badenhorst op as skoolhoof van die Somerset-Wes/Strand-skool.
Hendrik Arnoldus Louw, beter bekend as Dick, was ‘n diep gelowige man geseënd met goeie eienskappe soos integriteit en dissipline. Hy was ook ‘n uistekende sportman wat eersteliga rugby, tennis en gholf gespeel het.
Soos die getal leerders deur die jare toegeneem het, so moes ander planne gemaak word om hulle te akkommodeer. Daar is gebruik gemaak van die Dorpsaal, die Empire-saal en ‘n groot tent. Na uitbreidings van £4 000 in 1922, kon die leerders terugkeer na ‘n skool wat nou bestaan het uit 23 klaskamers en 22 toilette.
Die skool is egter amper vernietig tydens die Guy Fawkes-feesviering van 5 November 1927 toe iemand probeer om die skool af te brand, maar gelukkig nie daarin geslaag nie. Later, gedurende dieselfde jaar, het foutiewe plofstowwe by De Beers (die ou dinamiet-fabriek) verdere skade aan die skool veroorsaak. Twaalf groot vensters is deur ‘n ontploffing by die fabriek gebreek.
‘n Interessante persoonlikheid in die skool se geskiedenis, is Mnr A.K. (Karl) Kielblock wat in 1928 as personeellid by die skool aangestel is. Hy het baie bygedra tot die opvoeding van die Strand se jeug. Talle van die boeke wat hy geskryf het is deur kinders van dwarsoor Suid-Afrika gelees.
In ‘Die Burger’ van Januarie 1930 verskyn die beste uitslae wat die Publieke-skool, Strand, nog ooit behaal het. Van die 18 kandidate wat die skool vir die Junior-sertifikaat eksamen ingeskryf het, het almal geslaag – nege met eersteklas.
Hierna volg die moeilike jare van die Tweede Wêreldoorlog.
Die eerste spesiale-klas onderwyser, Mnr J. Greeff is in 1943 aangestel.
‘n Groot slag tref die skool in 1946 toe die skoolkomitee die bedanking van Mnr Dick Louw, vanweë die ‘bedreiging’ van die verlies van sy sig, met groot weemoed moes aanvaar. Hy wat soveel vir die skool en die gemeenskap beteken het.
Mnr M.A. Potgieter van die Graaff-Reinet Oefenskool volg hom op. Hy ervaar eerstehands dit wat Dick Louw vermag het en in 1948 oorreed hy die owerhede om die skool te herdoop tot die Laerskool Hendrik Louw.
In 1952 staan Mnr Potgieter en die skoolkomitee voor ‘n groterwordende probleem – Laerskool Hendrik Louw is tot barstens toe vol! Vertoë word aan die owerhede gerig om die Rhoda-skool as ‘n tweede primêre skool herstig te kry. Die versoek slaag uiteindelik.
In 1956 word die adjunkhoof, Mnr Kielblock, gevra om as waarnemede skoolhoof by die nuwe Afrikaans-medium skool, Lochnerhof, waar te neem. Die skool open met 240 leerlinge.
‘n Jaar nadat die afstigting plaasgevind het, aanvaar Mnr Potgieter ‘n bevorderingsaanstelling. Mnr H.J. Roelofse van Stanford aanvaar in Januarie 1958 die aanstelling as skoolhoof.
Gedurende die laat vyftigerjare begin ouers ‘n toenemende belangstelling toon in die skool se bedrywighede. In 1959 word ‘n Ouer-onderwyservereniging gestig. Een van die eerste ideale wat hierdie vereniging nagestreef het was die bou van ‘n skoolsaal. ‘n Lang insamelingsveldtog is in 1960 van stapel gestuur. Dit is ook gedurende hierdie tydperk (1966) dat Graad 7-leerders self ‘n rugbyveld aangelê het. Oor die 700 vragte grond is deur hulle met kruiwaens aangestoot. Daarna is die grond gelyk gemaak en met gras beplant. Teen die einde van die sestiger jare het Mnr Hubert Thompson, die voorsitter van die Ouer-Onderwyservereniging van daardie tyd, met sy legendariese ‘Cake Sales’ gehelp dat ‘n mooi bedrag van R10 000 ingesamel is. ‘n Departementele beleidsverandering t.o.v. subsidies het gelukkig veroorsaak dat die saal gebou is sonder dat dit nodig was om die R10 000 daarvoor aan te wend.
Die saalkompleks is in 1970 deur die Direkteur van Onderwys, Mnr S. Theron, amptelik ingewy. Kort daarna het Mnr Roelofse afgetree en is Mnr G.J.J. Swart as skoolhoof aangestel. Tydens sy verbintenis met die Laerskool Hendrik Louw studeer Mnr Swart verder aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal ‘n doktorsgraad in die Opvoedkunde.
Die huidige skoolgebou, soos ons hom vandag (2000) ken, is op 13 Oktober 1972 deur Mnr Lubbe, L.U.K., ingewy. Die ou Sendingkerk wat sedert 1906 op die skoolgronde staan, is as ‘n pre-primêre afdeling ingerig.
Gedurende April 1978 het die omganginspekteur, Mnr S.D. Naude, twee nuwe tennisbane geopen. Die atletiekbaan is in 1980 in gebruik geneem.
Daar is besluit om tydens die skool se 100 jarige bestaansjaar ‘n gedenksteen te onthul met die doel om tydens die eeufeesvierings hulde te bring aan almal wat gedurende die voorafgaande 100 jaar gehelp het om die skool op te bou tot daar waar dit tot in 1980 ontwikkel het.